Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - Sondag 4 Julie 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

RADIO-ZS IS IN DIE POS

ANALOOG VS ANALOOG EN DIGITAAL VS DIGITAAL

JAARGELDE VIR 2010/2011 IS NOU BETAALBAAR

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir verdere inligting oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIO-ZS IS IN DIE POS

Die Mei-Junie uitgawe van Radio-ZS is vroeër die week gepos. Dit is ook beskikbaar op die SARL-web op die “Members”-blaaie.

In hierdie uitgawe kan jy van Amateurradio, die mees veelsydige stokperdjie in die węreld, lees. Die IARU se President skryf oor “ Die toekoms van Amateurradio is by die jeug”, Kevin Macdonald skryf oor “A ZS6KMD QRP Z-match Antenna Matcher”. “IdiomPress Rotator Interface – A novice's experience” van Marinus Willemstijn, ZS6MAW,is 'n goeie stuk om te lees, en lees ook oor die Amateurradiotrust se innoveringskompetisie. “An unusual voyage into the world of CW” deur Vidi La Grange, ZS1EL, is ook 'n goeie leesstuk. In hierdie uitgawe is ook “ How I met Sofia!”, 'n 1:1 balans-onbalanstransformator (balun) vir die laer bande deur Frank van Wensveen, ZS6TMV/PA3GMP, en Komkar opdateer! Dan is daar die gereelde rubrieke oor satelliete en museums. Nog 'n Radio ZS wat nie gemis moet word nie.

Indien jy nog nie 'n lid van SARL is nie en graag 'n eksemplaar in jou inkassie wil hę, stuur 'n versoek aan armi@sarl.org.za met die woorde Radio ZS in die onderwerplyn. Nog beter, sluit nou aan en ontvang ses keer per jaar 'n kopie.

ANALOOG VS ANALOOG EN DIGITAAL VS DIGITAAL

'n Aantal belangrike veranderings aan die BHF/UHF-kompetisie is by die Indaba op 26 Junie bespreek. Die verrassing was dat drie persone hul bywoning bevestig het, maar dat 11 opgedaag het om die kompetisiereëls te bespreek wat vir kommentaar op die web gepubliseer is.

Die volgende persone was by die vergadering teenwoordig:

ZS5Y - Derek Gravett
ZS6GRL - Geoff Levey
ZS6MHH - Tienie Herbst
ZS6CBQ - Carl Minne
ZS6UK - Richard Peer
ZS6YOT - Jess Hawes
ZS6YE - Heather Holland
ZS6AVP - Clive Bean
ZR6LHT - Lynette Human
ZS6RH - Craig Symington
ZS6PJH - Pierre Holtzhausen

Geoff Levey, SARL se Kompetisiebestuurder, berig dat die Indaba begin het deur die konsepdokument op die web deur te gaan. Daar was lewendige bespreking oor 'n aantal punte maar die punt wat die drukste bespreking uitgelok het, was of die modusse (analoog en digitaal) verdeel en op verskillende naweke gehou moet word.

Nadat Derek Gravett, ZS5Y, verduidelik het dat daar in werklikheid verskillende kompetisies sou wees, is daar besluit om die modusse bymekaar te hou, dit wil sę, analoog vs analoog en digitaal vs digitaal, maar dat aparte logstate vir elke modus ingestuur moet word.

Nog 'n belangrike bespreking het oor die datums vir die kompetisie gegaan. Daar is ooreengekom om die September-been van die kompetisie in die eerste week van September te hou pleks van die derde week, weens swaar storms wat in afdeling 6 ondervind word.

Derek is op die oomblik besig om die aangepaste reëls op te stel wat later in die week vir kommentaar beskikbaar sal wees.

Die Indaba het om 17:00 verdaag gedurende Derek se demonstrasie van AMA, toe ESKOM besluit het om die ligte af te skakel!

Die wenner van die trekking vir 'n ARRL- antenahandboek was Lynette, ZR6LHT. Veels geluk, jou boek sal binne die volgende twee weke gepos word.

Die Raad van die SARL wil graag vir Geoff, Derek en al die deelnemers aan die Indaba bedank vir hul toewyding en 'n positiewe uitkoms.

JAARGELDE VIR 2010/2011 IS NOU BETAALBAAR

Jaargelde vir 2010/2011-lidmaatskap is nou betaalbaar. Die rekenings is in Junie uitgestuur. Dankie aan die 600 lede wat reeds hul 2010/2011-jaargeld betaal het; jul stiptheid en ondersteuning word waardeer.

Indien jy jou faktuur verlę het kan jy by www.sarl.org.za of by Mariska by 011 675 2393 oor jou lidmaatskapgraad, en die bedrag verskuldig, navraag doen. Onthou om jou betaling te identifiseer met jou voornaam en van of roepsein. Die SARL ontvang jaarliks geld in die bankrekening met geen verwysing nie, wat dit onmoontlik maak om betaling aan die regte persoon te koppel.

NUWE VOORSITTER VIR OKOSA

Die Minister van Kommunikasiewese het dr Stephen Mncube aangestel as die nuwe voorsitter van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van SA (OKOSA), met onmiddellike effek. Mncube volg Paris Mashile in dié topposisie op en sal vir 'n vyfjaartermyn tot 2015 dien.

Dr Mncube was voorsitter van die Nasionale Inligtingstegnologieforum, voorsitter van Sentek en bestuurder van die Ontwikkelingsbesigheideenheid by die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika. Hy het 'n doktorsgraad in filosofie, 'n meestersgraad in sosiale wetenskappe en 'n graad in wetenskap, wat hy by die Universiteit van Syracuse in die VSA ontvang het.

Die parlement het ook ingestem om drie nuwe raadslede aan te stel. Hulle is William Currie, wat by die Assosiasie vir Progresiewe Kommunikasie is; Joseph Lebooa, 'n Besigheidskakelbestuurder by MTN; en Ntombela Ndhlovu, 'n regsadviseur by MTN. Die nuwe Raadslede vul die setels wat deur Kobus van Rooyen, Robert Nkuna en Brenda Ntombela vakant gelaat is.

RTA IN KAAPSTAD 24 JULIE 2010

Het jy al gekyk na die RTA-program wat nou op die web beskikbaar is? Dit is 'n simposium wat nie gemis moet word nie. John Willescroft, ZS6EF, lig die sluier oor die geheime van digitale seinverwerking en wys hoe dit jou ontvangs honderd persent kan verander. Die DSP-konstruksiestel is ook by die RTA beskikbaar. Met soveel publisiteit oor die SKA-projek sal Adrian Tiplady van die SKA-projekkantoor ons vasgenael hou met boeiende nuwe inligting oor hoe hulle die radiofrekwensiesteuring gaan hanteer sowel as besonderhede oor vooruitgang en nuwe tegnologie wat uit die projek voortspruit.

Leer oor die nuutste CubeSat wat deur studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie gebou word. Jy sal ook die geleentheid kry om die satellietlaboratorium en skoonkamer te besoek.

Maak seker dat 24 Julie in jou dagboek is. Die volle program is beskikbaar op www.sarl.org.za, klik op rta of stuur 'n e-pos aan rta@sarl.org.za met RTA Cape Town op die onderwerplyn, en 'n PDF-weergawe sal aan jou gepos word.

KOMPETISIENUUS

SARL SE WINTER-QRP-WEDSTRYD

Daar gaan vanaf 2011 vier QRP-wedstryde per jaar wees. Om die tydreëling reg te kry begin ons reeds op 17 Julie 2010 met die Winter-QRP-wedstryd. Die tye is 12:00-15:00 UTC (14:00–17:00 SAT).

Die reëls sal op die SARL-forum geplaas word, maar indien enigeen 'n kopie wil bekom kan hulle gerus vir Geoff Levey na glevey@gmail.com kontak.

Die Lente-QRP-kompetisie is verskuif vanaf 12 September 2010 na 23 Oktober 2010.

Die uitslae is nou bekend vir die ZS4 40 m naelloop gehou op 23 Mei 2010. Baie geluk aan almal wat dwarsdeur die uitdagende toestande volgehou het met die kontakte. Twaalf kontakstate is ontvang. Eerste plek is ingeneem deur Jan, ZS4JAN. Sertifikate word tans gedruk en sal eersdaags aangestuur word. Navrae kan gerig word aan Riaan, ZS4PR@QSL.NET. Die berekende punte is soos volg:

ZS4JAN 115
ZS1CF 73
ZS2A 69
ZS1CC 51
ZS2EC 37
ZR1AAH 35
ZS6QDW 31
ZS2J 29
ZS6BB 26
ZS4BFN 24
ZS4MP 16
ZS6AKU 13


KLUBNUUS

Die Wesrandse ARK het sy jaarvergadering op Saterdag 19 Junie 2010 gehou.

Die volgende lede is tot die komitee verkies:
Voorsitter - Philip van Tonder, ZS6PVT
Vise-voorsitter - Geoff Levey, ZS6GRL
Sekretaris - Rory Crouch, ZR6RBJ
Tesourier - Craig Woods, ZS6CRW
Skakelbeampte - Willem Weideman, ZS6WWJ
Lede - John Brock, Romeo Nardini, ZS6ARQ, en Ron Eva, ZR6RON.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 084 het 'n eenvoudige magnetiese veld wat nie genoeg energie vir uitbarstings bevat nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Smiddae tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Met sonsopkoms en sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië raak 'n moontlikheid op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Toestande na Brasilië en Suid-Amerika is besig om uitdagend te word.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie belonend wees met openings na verskeie dele van die węreld.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag goed wees op 40 m. Met winter hier het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte gedurende die middel van die dag oor die langer afstande. Met die laer geruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse asook vir kontakte oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

10/11 Julie - IARU-HF-kampioenskap en WRTC;
15 Julie – Laaste dag om naam vir CubeSat-projek in te stuur;
17 Julie – Winter QRP-kompetisie 14:00 tot 17:00 SAT;
18 Julie - Integnet om 19:30 oor BHF-/UHF-/Mikrogolf-aangeleenthede;
23 - 24 Julie - Voorbereiding en lansering van die HABEX-balloneksperiment;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav,ZS6BWN saamgestel is en geredigeer is deur Hester van der Walt.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp
#


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003